ONDERSKRYWINGS

Dr. Isak Burger
Voormalige president van ‘n kerkdenominasie
“Die waarheid oor God en Sy openbaring, soos dit in die Bybel opgeteken is, is ewig en genoegsaam vir elke mens op hierdie planeet. Die wyse waarop dit verpak en aangebied word, moet egter aangepas word om die beste inslag in elke geslag en kultuur te verkry. Dit is presies die geval met Die Ware Openbaring. Nie alleen is die inhoud suiwer en deeglik begrond nie, maar dit word ook aangebied op ʼn wyse wat maklik verstaanbaar is en mense aanspreek.”

Johan Naudé
Bedien die Evangelie aan Hindoes en Moslems vir meer as dertig jaar
“In hierdie boeke word die Evangelie op ʼn suiwer en onafgewaterde wyse aangebied. Dit bied ook ʼn duidelike beskrywing van wat ander godsdienste glo – en dit word dan teen die Christelike Evangelie opgeweeg. Ek is oortuig daarvan dat hierdie boeke nuttig sal wees vir studiedoeleindes by alle instellings wat Bybelonderrig aanbied, asook by die breë publiek. My aanbeveling is dat byvoorbeeld Volume 1 as nuttige handboek by die Sondagskool of kategese gebruik kan word, terwyl dit vir almal noodsaaklik is om hulself op hoogte te stel van die inligting wat in al vier volumes vervat is. Daar is ʼn onbeperkte behoefte aan hierdie boeke.”

Ds Janlu Kuyler
Voormalige leier van die Wêreldfokus-bediening in ʼn gemeente
“Ek het deeglik insae gehad in die boeke deur, en teologie van, die skrywer – en kan eerlik sê dat hierin vasstaande Bybelgegronde teologiese beginsels aan lesers oorgedra word. Hy het deeglike navorsing gedoen en die onderrrig bevat ʼn onbetwisbare teologiese onderbou. Hy is getrou aan die Skrif en bly by die waarheid en beginsels van die Woord van God. Waar hy oor ander onderwerpe handel, word dit ook met sensitiwiteit en na deeglike navorsing gedoen. Ek beveel hierdie studies aan vir elkeen wat ʼn dieper kennis wil verkry van God en dit wat Hy in die wêreld doen.”

Elicia Topham
Voormalige leraar by ʼn onafhanklike Christenskool
“Die boeke is van ʼn uitsonderlike hoë kwaliteit en die inhoud is goed nagevors. Dit bevat daarom die ideale kurrikulum wat kerke en teologiese instellings kan gebruik om aan studente die waarheid te leer in verband met wêreldgodsdienste en wat die Bybel sê. Volume 1 en 4 is selfs vir gebruik in skole geskik. In ons skool het ek die behoefte vir sulke relevante inligting raakgesien.”

Dr. John Barton
“Nadat ek die inhoud van Volume 3 van Die Ware Openbaring versigtig oordink het, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat dit feitelik en weldeurdag geskryf is. Ek vertrou dat baie siele vir die Koninkryk gewen sal word.”

Dr. Angela Stott
Onderwyskundige en navorser
“Die maklike bruikbare handboeke van Volume 4 is in ‘n taal geskryf is wat vir ‘n wye lesersgroep toeganklik sal wees. Dit is uiters toepaslik vir gebruik in enige wêrelddeel, veral deur gelowiges wat ʼn paar duidelike en ongekompliseerde instrumente benodig om hul geloof mee te verdedig. Die rede hiervoor is dat die styl duidelik en reguit is en gegrond is op geloof in die Bybel – in teenstelling met baie ander beskikbare boeke wat geneig is om by die skeptici aan te sluit, met die noodwendige komplikasies wat dit meebring.”

Danie Swanepoel
Voorheen senior-adjunkhoof by Hoërskool Nelspruit
“Wat ’n wonderlike en verrykende belewenis om deur die werkboek en studiegids van Volume 4 te werk. Die inhoud is logies, duidelik, omvattend, weldeurdag en gefundeerd uiteengesit. Hierdie boeke sal menige jongmens en volwassene help om antwoorde te vind op die kwellende vrae rondom ‘skepping of evolusie’ waarmee geworstel word.
In die wêreld is daar ’n groot behoefte om die Bybelse waarheid oor die skepping te wete te kom, te midde van baie misleiding.
Hierdie boeke sal met groot vrug en seën gebruik kan word deur kleingroepe, kerkjeugaksies, dosente, gesinne en individue.
Aanbieding met uitgewerkte hoofstukke en vrae in elektroniese formaat maak dit vir die aanbieder maklik en treffend. Waar ek etlike jare by ’n hoërskool betrokke was by die vak Lewensoriëntering, en later as adjunkhoof, sou hierdie boeke my taak baie makliker gemaak het.
Mag hierdie aanbieding bydra tot die uitbreiding van God se Koninkryk hier op aarde!”